Tuis Akademie Kultuur Gallery Kontak ons Advertensies
Laer-Volkskool-Logo-Home
Tuis Ons skool Personeel Ouergids Akademie Kultuur Sport Gallery Kontak ons Sitemap
My-school-logo School-communicator

Ekstra Dienste:


Mariechen Jansen van Vuuren - Arbeidsterapeut
Sel: 082 554 0746
Corne van Niekerk - Sosioloog
Sel: 082 897 8197
Tel: 016 349 6200n/u

Facebook Kontak ons

KORT GESKIEDENIS VAN LAER VOLKSKOOL HEIDELBERG

Na die oorlog was die armoede skrikwekkend en die toekoms duister. Die weeskinders van die gesneuwelde burgers en van moeders wat omgekom het in die kampe, was as erfenis van die bloedige stryd. Met die hulp van Afrikaner-vriende in die Kaap is ‘n aantal onversorgde weeskinders o.m. opgeneem deur die Hulpkomitee.

Mnr Cornelius Meyer het goedgunstiglik sy Sondaghuis afgestaan sodat die weeskinders geherberg kon word. Om die kinders na ‘n Engelse skool te stuur, was onmoontlik - en onder die kerkgebou in die donker kelder, meermale genoem die “grot”, het die klein weesskool op 24 Julie 1903 geopen met Mej Anna Basson as onderwyseres.

Dadelik was daar ‘n toestroming van Afrikaanse kinders wat ook toegang wou hê. Tydens ‘n openbare vergadering is besluit om die vroeëre kerkskool te heropen onder die naam “Die Volkskool”. ‘n Beroep is op mnr Dönges gedoen om as hoof op te tree. So is Volkskool gebore, as ‘n skamele kindjie, sonder herberg, toerusting of geld, maar ryk in geloof.

Kinders-Geskiedenis Ou-Gebou-Laer-Volkskool

Gebore uit nood van verslae volk

Op 24 Julie 2003 vier Volkskool sy honderdste verjaarsdag. Ander skole in ons land is ouer, ander skole het ook ‘n interessante geskiedenis van stryd en groei agter die rug, maar die verjaarsdag van Volkskool is ‘n ewenement, ‘n spesiale terugblik waardig, omdat die geskiedenis van min ander inrigtings in ons land so kenmerkend is van die groeikrag van die Afrikaanse gees.

Die Volkskool het ontstaan uit die ellende van ‘n verlore vryheidstryd; het gewortel in die begeerte om ‘n aantal weeskinders van gesneuwelde burgers, ‘n lewenskans te gee.

Die kerk(e) in Heidelberg het die voortou geneem met die stigting van skole en dit was ds. A.J. Louw wat op 9 April 1893 tot predikant van Heidelberg bevestig is, wat die onweerstaanbare stuwende krag op onderwysgebied aan die Suikerbosrand sou word. Na die Tweede Vryheidsoorlog het Milner verorden dat geen woord Hollands in die Openbare Skool geleer sou word en uit die kwaad is die goed vir die Afrikanervolk gebore. Juis deur die bevel het Volkskool ontstaan.

Kinders het nou na Volkskool gestroom en spoedig is die konsistoriekamer in beslag geneem en die Van Belkumsaal (Nee Hervormde Kerk) gehuur vir klaskamers. Die gesukkel sonder meubels, boeke en ruimte was groot - en toe dit op sy donkerste was, het uitkoms gekom. Die twee broers, Frederik en Willem Bezuidenhout, met hulle swaer, Cornelius Meyer het die erf waarop Volkskool tans staan, gekoop en ‘n gebou teen die koste van sowat £5,000 deur mnr Johannes Joubert te laat oprig, terwyl hulle eggenotes die grootste deel van die meublement geskenk het. Op 11 Januarie 1907 is die Volkskool plegtig ingewy deur prof. Marais, van die Kweekskool van Stellenbosch en die hoeksteen gelê deur Schalk Burger, die laaste President van die Suid- Afrikaanse Republiek. In 1907 het genl. Smuts, Minister van Onderwys, besluit om al die CNOskole in die land oor te neem as goewermentskole. So het die Volkskool ‘n openbare skool geword, met behoud egter van sy eie geboue en skoolkommissie.

Volkskool het geweldig opgebloei met kinders uit die Heidelbergdistrik en selfs ander provinsies. In 1908 is mnr Dönges tot inspekteur van skole bevorder en is “meester” A.J. Louw tot hoof gekies. Met sy vuur en dryfkrag het die prestasies en luister van Volkskool so verhoog dat die Laer en Hoër afdelings geskei is, met mnr D.C. Cronje as hoof van die Laer- en “meester” Louw hoof van die Hoërskool. Altwee afdelings is voorlopig in die ou Volkskoolgebou gehuisves tot die Hoër afdeling na die huidige Hoërskool getrek.

Uit die geloof gebore het Volkskool gegroei en sy leuse “Vir God en Vaderland” het hy met die grootste mate van welslae uitgeleef, sy plek in die onderwyswêreld met eer volgestaan en hom by die wisselende eise van die steeds anders-wordende Vaderland aangepas.

Een hoofkenmerk van die skool is: ‘n skool uit die Volk vir die volk, ‘n Volkskool vir Volksdiens. Honderd jaar is Volkskool gespaar om bevrugtend op ons jong jeug in te werk. Die bondgenootskap was keerwalle teen vervlakking, onkunde, verydeling, verontregting en verwaarlosing van die jeug- en vandag is daar nog steeds die hegte samewerking. Volkskool sê dankie aan die duisende, ouers, leerders en onderwysers wat hulle kant gebring het en nog steeds bring. Hulle het die gesonder hartklop geskep waarmee die onderwys- en opvoedingstaak, met soveel toewyding en volharding verrig word.

Die tyd staan nie stil nie en bring veranderings mee. Verdere uitbouing van uiterlike en innerlike aard het reeds plaasgevind - dit word weerspieël in die vernuwing of daarstelling van sekere dinge. So kan daar met trots verwys word na die geboue, skool- en sportterrein, skool- en sportdrag, skoollied en skoolwapen, opvoedkundige apparaat en vervoer. Besondere prestasies op akademiese, kulturele- en sportgebied word ook bereik.

Kyk ons na Volkskool in die hede, is ons onwillekeurig trots en dankbaar dat die skool kindgerig is, koersvas is en prioriteite en beginsels stel om tred te hou met die groter eise wat die onderwys aan die opvoeder en ouer stel. Ook word die kind toekomsgerig opgevoed en in geloof word hy toegerus vir sy lewenstaak in diens van die land. Hier word reddingswerk gedoen en opvoedingswerk wat ewigheidswerk is. Oor Volkskool is wilskrag en vermoë om die uitdaging te aanvaar, hoef daar geen kommer te wees nie.

Die skoollied van Laer Volkskool Heidelberg

Die Volkskool staan in Heidelberg
se ruime hart gebou.
Waar die Suikerbosrand aan die westekant
sy stille brandwag hou.
Trots oorlogsnood en dwinglandy,
gebrek se donker wolk,
was ons ideaal, soos ‘n ligtende straal:
Vrees God en dien jou volk
Die God van onse Vadre sal ons
ook in liefde dra,
waar ons ons verpand vir ons skool,
Volk’ en land,
ons land Suid-Afrika.

Woorde: Phillip Langenhoven
Musiek: Stephen Eyssen
Gekomponeer: 17 September 1964